orange revolution campaign

Saturday, April 24, 2010

Jong ma se lyk in afvoerpyp gevind

Kaapstad - Die lyk van 'n 28-jarige ma van twee, Liesel Fourie, is in 'n stormwaterpyp gevind ná sy vir dae lank vermis was.

Fourie se verloofde, Cobus Hanneman, het Saterdag aan Nuus24 gesê sy is ook verkrag.

"Haar hande was met haar broek agter haar lyf vasgebind en haar gesig was inmekaargeslaan," het Hanneman per telefoon gesê.

Fourie, wat in Rustenburg gewoon het, was op 'n naelversorgingskursus in Benoni die afgelope maand.

Sy het by haar ouers in Brakpan tuisgegaan.

"Liesl het net gou winkel toe gery vir brood en melk," het Hanneman gesê oor Fourie se verdwyning op Vrydag, 16 April.

Fourie het egter nie dié betrokke dag teruggekeer van die winkel, Caroline's in Voortrekkerstraat, Brakpan, nie.

Haar ouers het onraad vermoed en die polisie in kennis gestel.

Fourie se voertuig is eers verlede Dinsdag in Windmill Pioneers Park, Springs, gevind.

"Die agtervenster was stukkend en daar was bloed op die motor," het Hanneman die toneel beskryf.

Fourie se lyk is sowat 500m van die motor in 'n stormwaterpyp gevind.

Volgens Hanneman het die polisie vingerafdrukke op die voertuig gekry, en sal DNS-toetse ook gedoen word.

Spring-polisie het Saterdag gesê die saak word ondersoek, maar kon geen verdere inligting uitreik nie.

'n Begrafnisdiens vir Fourie sal Maandag, 26 April, om 11:00 by die Sewendedag-Adventiste Kerk in Hastingslaan, Brakpan, plaasvind.

Sy laat twee seuns agter.

- Nuus24

No comments:

Post a Comment

Tweet Blender